Die grafdigterdeur Gerda Taljaard –  boeiende Gotiese fiksie

Deur Neil Cochrane 

Uitgewer: Penguin Random House. 
Jaar: 2025
ISBN: 978-1-77638-093-0. 271 bladsye
 

Spoke, heldersiendheid, die oproep van dooies, onaptytlike gebeure, donker drifte, drome en doodsobsessies is van die elemente wat dikwels in Gotiese literatuur voorkom. Dié konvensionele kenmerke is ook in Gerda Taljaard se jongste roman, Die grafdigter aanwesig. Die romantitel wys reeds op ’n onbetwisbare Gotiese karakter asook die literêre tradisie van kerkhofdigters wat reeds gedurende die 18de eeu ’n aanvang geneem het en as voorloper van Gotiese literatuur beskou word. Kerkhofdigters se gedigte speel af in begraafplase en die klem val op menslike verganklikheid. Die hoofkarakters se obsessie met die dood is dan ook ’n beduidende deel van veral Zhanna (ywerige grafdigter en Mila se geesgenoot) se lewensuitkyk. Teen die einde van die roman word die sterwende Zhanna op ’n intense wyse gekonfronteer met haar eie sterflikheid.  

Taljaard sluit nie net aan by ’n literêre tradisie nie, maar is ook ’n meesterlike storieverteller. Vanuit ’n lesersperspektief is dit seker die belangrikste eienskap van haar pasverskene roman, want lesers is byna altyd op soek na ’n goeie storie. Telkens word dié leser verras en staan verstom oor hoe vernuftig Taljaard die sentrale storielyn van Mila se soeke na haar ouers vermeng met ander storielyne soos Zhanna en tant Olga se wedervaringe as heldersiendes. Die roman se episodiese aard help om struktuur te verleen aan ’n warboel verweefde storielyne. Baie tydspronge word tussen verskillende episodes gemaak en soms selfs binne dieselfde hoofstuk. Die leser moet nogal kophou om nie die draad te verloor nie.  

’n Roman moet jou vanaf die eerste paar bladsye oorrompel, want anders is dit ’n verlore saak. Die openingstoneel waar Mila en haar ouma ’n takbok jag en doodskiet hou onmiddellik die leser se aandag gevange. Gedetailleerde beskrywings van die ongenaakbare Russiese winter en die sneeulandskap dra verder by om die leser se aandag te trek. ’n Goeie voorbeeld is die volgende beskrywing op bladsy 12:  

Die ouma en haar kleinkind kou aan die taaierige, bitter vleis. Hulle tande skeur deur spier en kraakbeen en sening. Elke mondvol word met sneeuwater afgesluk.  

Die krag wat in die takbok was, is nou in hulle. Dit wat hom gevoed het, voed hulle. Vier of vyf somers se soetgras en blomme en mos.

Dié aanhaling speel ook in op ’n kernaspek van die roman, naamlik die stryd om oorlewing in ’n ongenaakbare wêreld. Dié oorlewingstryd hou in Die grafdigter verband met die onmeetbare vergrype van oorlogvoering en meer spesifiek die Tweede Wêreldoorlog, die Grensoorlog, die geweldskrisis tans in Suid-Afrika en Poetin se aanslag op Oekraïne. In die roman beskik die bosinlike oor ’n dieperliggende funksie en funksioneer dit as ’n middel om aandag te vestig op die realiteit van geweld, onderdrukking en miskenning wat inderwaarheid meer angswekkend is as dwaalgeeste. In ’n insiggewende artikel op PEN Afrikaans se webtuiste wys Taljaard op dié belangrike funksie van die bonatuurlike in Gotiese literatuur: “Wanneer die realiteit te angswekkend raak, soek ons dikwels ’n bosinlike alternatief, word ons werklike vrese na die onwerklike gekanaliseer.” In Taljaard se roman word ’n deurlopende paradoks aan die leser voorgehou: vrees eerder die lewendes as die dooies. 

Die grafdigter gaan in wese om parallelle verhale en ragfyn skeidslyne. Mila en haar ouma se storie toon ooreenkomste met Zhanna en tant Olga se verhaal. In beide gevalle gaan dit om buitestaanders en hoe hulle die dun skeidslyn tussen liefde en haat navigeer. Hierbenewens is ook ander skeidslyne aanwesig: skuld en vergifnis, waarheid en leuen asook verknegting en bevryding.

Fotokrediet: Gerda Taljaard

Die karaktertekening is dinamies en die fokus val veral op die psigologiese impak van trauma, die enigmatiese aard van die onbewuste en primitiewe drange. Byna al die karakters ly aan een of ander vorm van komplekse psigopatie en dit kan ons veral sien in die pasiënte wat Mila se psigoterapeutiese sessies bywoon. Die harteleed is dat mense hulle eie grootste vyande is. Aurora is ’n goeie voorbeeld van ’n karakter wat haarself nie van ’n historiese skuldlas kan bevry nie wat dan tragiese gevolge vir haar inhou. 

In haar jongste roman sluit Taljaard nou aan by die Gotiese elemente in haar oeuvre. Haar affiniteit vir die makabere en die donker kant van die menslike bestaan kom weer eens na vore. Daar word ook nou aangesluit by ander Afrikaanse woordkunstenaars soos Eugène Marais, Reza de Wet, André P. Brink en Anna M. Louw in wie se werk Gotiese elemente aanwesig is. 

Die grafdigter is Taljaard se beste werk nog en bied aan die leser ’n betowerende leeservaring. Dit is ’n roman waarin verlies, verraad en menslike neuroses op ’n indringende wyse ondersoek word en ook nooit sonder ’n skeut humor nie. Taljaard slaag daarin om haar persoonlike en akademiese belangstelling in die Gotiese literatuur (lees gerus haar besinnings hieroor op LitNet) tot boeiende fiksie te omskep.  

Neil Cochrane  is n dosent in Afrikaanse letterkunde, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Unisa. 

Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/ 

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum Deur: Mimie de Vries Foto's: Verskaf deur...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Mens sukkel nie met ’n meermin nieCarla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese...

’n Lewenslange musiekreis

Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis Deur Mimie de Vries Ek kuier by Elizabeth...

Philippolis – Deur Jens Friis 

Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat Saamgestel deur Jens FriisBoekresensie deur...

Vorige Uitgawes
Previous Publications

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook