Op pad na ’n klooster in die sneeu deur Johannes de Villiers
Deur: Deborah Steinmair
Hierdie roman is min of meer in die toonaard van Karel Schoeman en Johann Rossouw – dis ’n amper saaklike, gestroopte vertelling wat handel oor mistieke konsepte, oor die soeke na betekenis, na ’n salige visioen.
Die roman is in die verlede tyd geskryf eerder as, soos gebruiklik, die historiese teenwoordige tyd. Dit verleen aan die vertelling gravitas, ’n formaliteit, ’n dawerende element soos sprokies of die Bybel.
Die verteller het pas klaar gestudeer en word gekonfronteer deur die vooruitsig van dekades se verveling: “Daardie wroegjare wanneer van jou vereis word om van jou relatief sorgvrye jeug afstand te doen en te aanvaar jy staan op die drempel van jare – dekades! – se kantoorure, gesinsverpligtings, verbandbetalings … ’n Grys, veeleisende, beklemmende toekoms stroomroller langsaam maar onvermydelik op jou af sonder dat jy enigiets kan doen om uit die pad daarvan te kom.”
Johannes de Villiers
Toe hy op skool was, het ’n avonturier hulle eendag toegespreek. Hy het vertel van ’n vroeë verkenner wat om die aardbol wou vaar en van die menslike beskawing wou wegkom. Op die punt in die oseaan wat so ver as moontlik van vastelande verwyder is, het hy in ’n boot rondgedobber. Tog het alledaagse geluide rondom hom hom steeds gesteur: “planke wat kraak, masjiene wat luier, water wat teen die romp klots”. Hy het ’n koord aan die boot se reling vasgemaak en die ander punt aan sy enkel. Hy het na die horison geswem en daar op sy rug gelê en dryf. Dit het die seun geweldig beïndruk en besiel met die begeerte om sy rug op die wêreld en al haar verwagtings te draai.
Die verteller, wie se naam ons nooit uitivnd nie, is ’n melancholiese alleenloper wat van plan is om ’n voorspelbare toekoms te ontduik deur hom af te sonder in ’n klooster in ’n verre land. Op pad daarheen doen hy by ’n verlangse stiefoom aan wat ’n priester in die Madeleine-kerk in Parys is. Adelbert Jansen van Breda is al tagtig en nou ’n kanonnuk. Die verteller bring ’n aand in oom Adelbert se woonstel deur en luister na sy vertelling oor ’n definiërende oomblik in sy lewe – toe hy as teologiestudent in Rome saam met twee medestudente per trein na die bergdorpie San Giovanni Rotondo gereis het om die mis by te woon deur die beroemde padre Pio wat deur sommige as ’n lewende heilige beskou is. Daar het iets gebeur wat oom Adelbert vir die res van sy lewe sou besiel.
By die aanhoor van die vertelling en die salige visioen wat Adelbert gehad het; ’n vervulling wat hom gestroop het van alles wat aards is en hom weemoedig gelaat het, besef die verteller dat hy nie geroepe is vir die lewe as priester nie, dat hy bloot een soort dissipline en roetine, een dwingelandy vir ’n ander sou verruil. Hy gaan draf (heeltemal onfiks en onvoorbereid) vir twaalf kilometer deur Parys en keer terug Suid-Afrika toe, waar hy sukses behaal as farmaseutiese verteenwoordiger. Hy woon alleen in ’n meenthuis en sonder hom sosiaal af. Hy gaan sien jaarliks ’n psigiater en kry medikasie teen wat as sy sosiale angstigheid bestempel word. Hy het geen kind of kraai nie en kyk saans, terwyl hy wegneemkos eet wat hy laat aflewer het, op TV na ’n dokumentêre reeks oor monsters en bonatuurlike verskynsels.
Hy en Adelbert het nog vir jare gekorrespondeer, maar voor laasgenoemde se dood kontak verloor. In die dokumentêr sien die verteller ’n Amerikaanse priester van 92 wat een van Adelbert se mede-pelgrims na padre Pio se kerk was. Hy spoor hom op en hulle gesels telefonies oor die voorval in die kerkie van die heilige. Padre Pio het stigmata gehad – bloed het uit sy handpalms gesypel. Hy het dit verbind en was beskeie en anderwêrelds. Baie het hom uitgekryt as swendelaar en tog het daar wêreldwyd gebedsgroepe in sy naam ontstaan.
Die verteller is ook geïnteresseerd in ’n vriend van wie Adelbert hom vertel het: Artur, ’n Poolse skilder wie se eksentrieke, welgestelde weduwee-ma teen hulle vriendskap gekant was omdat sy ’n trotse ateïs was en geglo het Adelbert bearbei haar seun om Rooms-Katoliek te word. Artur het die vriendskap beëindig, maar jare later het hulle weer kontak opgeneem.
Die verteller reis weer na Parys om meer oor Adelbert se laaste jare uit te vind. In die argief van die kerk gaan hy deur Adelbert se nagelate besittings en dokumente, en lees ’n brief wat aan hom geskryf is kort voor Adelbert se dood. Op ’n manier, oor tyd en afstand heen, moedig Adelbert die verteller aan om ruimte te maak. Vir mense, vir goedheid.
Aan die hart van hierdie besonderse roman is die misterie van die mistieke – vader Adelbert se heilige ervaring van totale eenheid met God. Dit is transendentaal en ekstaties en onmoontlik om in woorde oor te dra. Dit is daardie ervaring waarna pelgrims op soek is en wat die skrywer stilweg en lieflik poog om te verwoord. Die res is stilte.’
Deborah Steinmair is ‘n skrywer en resensent.
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


