Formidabele tweemanskap weereens op tuimeltreinrit in Skorpio
Deur: Willemien Aukema
Die Afrikaanse leserspubliek bly maar net lief vir ’n krimi.
Dalk is dit die menslike hunkering na ’n bietjie gekontroleerde donkerte? Ons begeerte om herinner te word daaraan dat groter monsters bestaan en ons eie lewens, in perspektief gesien, tog eintlik vreedsaam is? Dat die chaos aan iemand anders behoort. Dat dit, te danke aan ons pronktroppie plaaslike fiksionele speurders, ondersoekende joernaliste en skop-skiet-en-uitvind manne (en vroue), opgelos kan word. Die booswigte word vasgetrek, die nodige geweld word gepleeg, en die dossier word afgehandel.
’n Goed geskryfde krimi is die hoogtepunt van tydelike ontvlugting.
Deon Meyer se nuuste roman, Skorpio bied juis net dit. Meyer is ’n meesterlike vervlegter van skynbaar onverwante misdaadbrokkies wat op die ou einde in die bestek van etlike bladsye ontknoop (of sal ons sê ontplof) in ’n unieke dog uiters geloofwaardige warboel van dreigende persoonlike verlies, internasionale politiek en natuurlik ’n goeie skeut eg plaaslike intrige.
Hoe onwaarskynlik is dit dat ’n TikTok video van ’n ontploffing oor die see, die skynbare sluipmoord op ’n jong, loslap akteur met ’n voorliefde vir mooi vroue en ’n brand by ’n verlate skaapwagtershut in die wynlande iets in gemeen kan hê? Voeg hierby ’n fratsongeluk wat lei tot die dood van ’n geliefde gemeenskapsleier in Idasvallei, die selfdood van ’n politikus maande gelede en die naderende BRICS samekoms op Stellenbosch. Hier kom vuurwerke, maar wie presies dreig om die lont aan te steek?
Lojale Meyer-lesers stap al ’n wyle die pad met Bennie Griesel en Vaugh Cupido. Hierdie formidabele tweemanskap is al deur diep waters, maar seevier steeds elke keer te danke aan hulle byna magiese sinkronisasie en intieme verstaan van die ander se denkpatrone.
In Skorpio kry ons aanvanklik minder van hierdie gerusstellende samewerking tussen die twee, aangesien Vaughn oënskynlik VVV’s jaag en kleinskaalse brandstigting moet ondersoek terwyl Griessel tot verhaal moet kom oor die fratsdood van ’n oudkollega, en harde werk moet insit om sy verbrokkelde verhouding met sy seun weereens te probeer herbou.
Op sy kenmerkend deurdagte en fyn nagevorsde manier neem Meyer sy lesers op ’n tuimeltreinrit deur die Wes-Kaap, met besonderlike insigte in die werking van plaaslike wetstoepassing en burokrasie, sowel as die wrywing wat sosio-ekonomiese ongeregtigheid bring. Beide Griessel en Cupido maak ruim gebruik van hulle ervaring en kontakte aan beide kante van die gereg, in ’n poging om sin te maak van hulle ondersoeke, maar êrens klop iets net nie. Hulle word verder gefrustreer deur die feit dat hulle van mekaar geskei word deur die ondeurdringbare geografie van die Moederstad se verkeer, bergpasse en die ontwykende droom van ’n balans tussen werk en hulle privaat lewens . Griessel se ondersoek lei daartoe dat hy homself vasstaar in die newelagtige werking van internasionale politiek. Ten spyte van hierdie oëverblindery krap iets aan hom en dié baasspeurder, met drie dekades se moordsake op sy kerfstok, kan net nie die saak laat lê nie.
Cupido, daarenteen, stamp koppe met die van die Kaapse wynlande en moet sy eie vooroordele in toom hou om nie sy ondersoek te kniehalter nie. Hy begin twyfel aan sy eie vermoëns en delf selfs bietjie in die wêreld van selfverbeteringsboeke in.
Deon Meyer
Die skim van Griessel se alkoholisme, sowel as sy diep toewyding aan sy eie herstel, skep weereens spanning in sy professionele en persoonlike verhoudings. Die insig en deernis waarmee Meyer hierdie nimmereindigende geveg dokumenteer, bly een van die eerlikste vertellings van die verslawingsmonster binne die konteks van ’n Afrikaanse roman.
Meyer se byspelers, soos vertolk in Skorpio, skep interessante konflikte, lei die leser heerlik om die bos en vul die verhaal met ryk nuanse. Dis verblydend dat sekere stereotipes vrygespring het en geykte storiekinkels vind nie hulle pad tot op die bladsye nie. Die karakters is vars, hulle krisisse uniek, en die ontknoping van elkeen se eie stukkie lewensdrama is uiters bevredigend.
’n Laaste minuut, kritieke jaagtog kan maklik lomp voel en die leser verlei om paragrawe vooruit te spring. Hoe boeiend kan nog ’n vinnige bergpasdraai en angstige foonoproep nou werklik wees? Tog kry Meyer dit reg om die leser se aandag te hou, en op die ou einde werk hierdie motief goed.
Soos met enige krimi wat plaaslik afspeel, kry die leser ’n intieme blik op die werking van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en dié se ondersteuningsdienste. Telke male word daar op ’n verfrissende manier gewys dat die meerderheid van Suid-Afrikaanse wetstoepassers eintlik net goeie mense is wat werklik hard werk onder haglike omstandighede. Dalk is dit hoekom hierdie tipe ontspanningslektuur so in ons psiges boer? Dit is ontvlugting, ja, maar ook, en veral wanneer dit uit die pen van ’n gedugte skrywer soos Meyer kom, omdat dit ’n stukkie hoop kan bied vir hierdie land van ons.
Uitgewer: Human & Rosseau
Jaar: 2025
ISBN: 978-0-7981-8567-7
Willemien Aukema is ’n vryskut-resensent en taalpraktisyn.
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


