Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Carla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese meermin gaan uitvind.

Die stormloop om na die mitologiese meermin by die C.P. Nel-museum op Oudsthoorn te kom kyk, was in ’n stadium so erg dat raadop personeel die museumdeure moes sluit en by die sydeure uitgeglip het.

Ja, die meerminlegende op Oudtshoorn is steeds springlewendig. Maar moenie glo sy is die lieftallige, sagsinnige skoonheid van Disney-rolprentfaam nie. Nee, eerder ’n femme fatale en reeksmoordenaar wat ook al langs die see en elders in die Tuinroete ’n skrikbewind gevoer het.

Die langhaar blouoog meermin het aanvanklik in afgeleë bergpoele in die Oudtshoorn-omgewing gewoon.

Bertina,*wat voor haar aftrede by die argief by die C.P. Nel-museum gewerk het, vertel dat hierdie mite na die vloed van die Grobbelaarsrivier in 1996 momentum gekry het.

Die bekende akteur, wyle Paul Eilers, het op Suid-Kaap Stereo pligsgetrou maar tong in die kies verslag oor die wese gedoen

Bertina: “Hy het ewe vertel dat die meermin in die see uitgespoel het. Toe hulle hul oë uitvee, daag al wat leef en beef by die museum op. ‘Waar is die meermin?’ wou hulle weet.

Die stories het mos intussen al meer (meermin)stertjies bygekry. Nie dat die museumpersoneel heeltemal onskuldig was nie.

“Ons het saamgespeel (wat kon ons anders doen?) en het vertel dat ons die meermin gevang het en dat sy in aanhouding by die museum is.”

Dit was ’n fout. ’n Groot fout. Die liggelowiger deel van die gemeenskap was in rep en roer.

Daar is vertel dat die meermin, wat ook as die “seenimf”, “waterantie” en “watermeisie” bekend gestaan het, in die visnet van ’n treiler ontdek is en toe na die C.P. Nel-museum gestuur is waar sy in ’n tenk vol versterkwater lê. Een of ander meganisme het glo haar stert laat swaai.

Maar ’n meermin laat nie met haar mors nie.

Sy het glo ewe gedreig dat as sy nie dadelik uit die museum vrygelaat word nie, kom daar ’n Noagse vloed.

Bertina: “Vir die publiek was die meermin ’n werklikheid. Ons is oorval met oproepe van mense in die Tuinroete sowel as die binneland, wat die meermin wou kom aanskou.

“Party swart mense, weer, het geglo dis niks anders nie as ’n bose gees of ’n watergees, wat mense in die water intrek en slagoffers laat verdrink. Soos die geval van ’n voertuig vol polisiemanne.”

Die meerminstories het natuurlik die koerante gehaal, wat tot verdere bespiegelings gelei het. Sy het glo veral jong meisies met blomme op die water gelok en die uiteinde was ’n tragiese watergraf.

Ook nie links nie het die museum toe besluit om die “meermin” (’n winkelpop) met hare van ’n mop en ’n stert wat deur een van die werkers gemaak is, in die museum se kloktoring op te hang. So kon jy haar van ver af sien. Ongelukkig het die duiwe haar beblerts.

“Onder nuwe bestuur is sy versigtig in sneespapier toegedraai en gebêre.”

 

In die skrywer Daniël Lotter se boek, Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes, skryf hy onder die opskrif “Watermeide” dat die legende van die vreemde vrouefigure met die onderlyf soos die stert van ’n vis reeds in die Griekse mitologie gevind word.

Baie jare gelede, lui die legende, het die seun van ’n plaasboer die onweerstaanbare meisiekind in ’n poel ontmoet.

“Of dit sommer net jeugdige origheid was, kan mens net raai, maar die jongeling raak tot oor sy ore verlief op haar. Die feit dat sy nie ’n draad garing aan haar lyf gedra het nie, het beslis ook iets met die vreeslike liefde te doen gehad. En soos wat jongmense maar maak as die pyltjies tref, wil hulle elke sekonde van elke dag bymekaar wees.

“Die boer is naderhand raadop, want die erfgenaam sit van sonop tot die maan begin kantel langs die waterpoel en gesels met ’n mens wat niemand anders kan sien nie,” skryf Lötter.

Van die predikant tot die polisieman en ’n dokter se hulp is ontbied. Maar niemand maak kop of stert van die ding uit nie.

Dis sy kop wat hom laat staan het, sê die pa later. En teken die papier dat hulle die seunskind kan wegvat na ’n plek in die Kaap, sodat hulle na die seun se kop kan kyk.

Maar dis nie net in die omtes van Oudtshoorn dat mense die meermin “sien” nie. Sy is fiks en swem ver.

Raar maar sekerlik onwaar, lui ’n storie dat ’n man vertel het dat ’n meermin deur ’n man gevang is, en terwyl hy teen ’n duin opgestap het, het die see agter hom so onstuimig geraak dat hy die meermin noodgedwonge in die see moes teruggooi. Daarna was die see kalm.

Of dit dieselfde meermin is, weet mens nou nie, maar die legendariese “Kaaiman” is glo by die Buffelsjagrivier by Suurbraak, ’n dorpie naby Swellendam wat die Overbergstreek met die Tuinroete verbind, gewaar.

So berig roadtravel1@wordpress.com dat Dina Olckers en haar man, Martinus, ’n figuur wat half vis en half mens was en jammerlik geween het, opgemerk het. ‘n Verskynsel waarteen geslagte se voorouers hulle gewaarsku het.

Dit lyk asof die beroemde/berugte meermin ook sakevernuf het. Een (wolhaar)storie lui dat sy by ’n fontein gevind is waar mense R2 moes betaal om haar te sien.

Hoera vir haar! Ons land het hoeka entrepreneurs nodig.

*Skuilnaam

Cala van der Spuy is ’n vryskut joernalis en die skrywer van ’n tiental boeke, waaronder Die uitvaart (2025).

Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/ 

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum Deur: Mimie de Vries Foto's: Verskaf deur...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Die grafdigter

Die grafdigterdeur Gerda Taljaard -  boeiende Gotiese fiksieDeur Neil Cochrane Uitgewer: Penguin...

’n Lewenslange musiekreis

Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis Deur Mimie de Vries Ek kuier by Elizabeth...

Philippolis – Deur Jens Friis 

Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat Saamgestel deur Jens FriisBoekresensie deur...

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook