Op 100 praktiseer hierdie dokter nog!
Deur:Carla van der Spuy
Die vreugdevure het hierdie week hoog gebrand by die geliefde dr. John Callaghan se spreekkamer agter die Brooklyn daghospitaal in Pretoria. Plus 50 media is ook genooi vir die vrolike opskop.
Hierdie ware legende, ’n praktiserende oor neus en keelspesialis is nou ’n volle 100 jaar oud. Van sy pasiënte oor ’n tydperk van meer as ’n driekwarteeu, se kinders en kleinkinders is ook al deur hom behandel.
Sy ontvangsdames, Sania du Plessis en Mariana White waak soos twee moederhenne oor hom.
Die tyd het aangebreek dat hy nou net vier dae per week praktiseer, het hulle besluit.
Maar nou gaan hy gim toe waar sy persoonlike afrigter, Philip Steyn, hom twee keer per week vir ’n uur lank laat oefen. Hy skrik nie eers daarvoor om met gewigte van 20 kg te werk nie!
Sy ontvangsdames het besluit om op Dinsdag 11 Augustus geen afsprake vir pasiënte te maak nie. Daar word net fees gevier! Dis sý dag!
“Moenie ontbyt eet nie”, waarsku Sania.
“Hier gaan baie eetgoed wees.”
”Maar”, voeg sy laggend by, ”daar gaan geen drank wees nie”.
Moenie dink dr. John Callaghan skrik vir oefening nie – al het hy ‘n eeu agter die blad. By hom is sy toegewyde persoonlikle afrigter, Philip Steyn, wat hom twee keer per week vir ‘n uur lank op ‘n keer onder hande neem
Dr. Callaghan is soos iemand wat almal vir ’n oupa wil wees. Hy herinner aan ’n regte outydse dokter met sy dik wit jas.
Hy het al die tyd in die wêreld vir sy pasiënte, luister aandagtig na hulle en gee jou ’n vaderlike skouerdruk as jy dalk oor iets bekommerd is. Boonop is sy handdruk ferm en sy gerusstellende stem klink soos dié van ’n veel jonger man.
Met soveel jare mediese ervaring is hy nou landwyd bekend. Met sy 99ste verjaarsdag het een van sy skoolmaats – dalk ’n ou girlfriend nou self in haar negentigs – hom gekontak.
Hy was verstom dat soveel mense hom sowaar nog onthou.
Met al sy ervaring verwys veel jonger kollegas dikwels probleemgevalle na hom toe. Hy sorg ook dat hy altyd op hoogte bly van nuwe mediese verwikkelinge.
Maar wat is sy geheim?
Min mense word 100 jaar oud, laat staan nog om aan te hou met werk.
“Mens moet ’n doel in die lewe hê. Jou werk moet vir jou ’n plesier wees en nie ’n las as jy soggens opstaan nie”, vertel hy.
“Ek dink mens is gelukkig as jy kan aanhou om iets te doen, ten minste weet wie jy is en nog in staat is om jouself te help. Ek doen alles self. Ek is geseënd dat ek nog redelike goeie gesondheid het. Ek vrees die dag dat iemand my moet versorg. Ek kan my dit glad nie indink nie. Ek wil vir niemand ’n las wees nie. Ek was my hele lewe lank onafhanklik en dis hoekom ek in privaatpraktyk is”.
Dr. John Callaghan en Mariet du Plooy, oudioloog van Pretoria
Ontvangsdame Mariana White gee 100 blokkies sjokolade vir die 100 jarige dr. John Callaghan
Hy is ’n wewenaar en woon van onlangs af by sy kinders maar is steeds heeltemal onafhanklik.
”Die kinders is baie goed vir my”, sê hy.
Dr. Callaghan kyk ver terug as hy oor sy loopbaan praat. Hy was op sy dag algemene praktisyn en distriksgeneesheer in die Groot Marico.
”Ek het soms 14 dae lank aanmekaar gewerk en was so besig dat ek my vrou en kinders in die kar gelaai en ’n bed agter in gemaak het sodat ek hulle darem kon sien. Dan kom ek soggens drieuur of vieruur weer by die huis aan.
“Ek het maklik 300 tot 400 myl – nie kilometers nie – op ’n middag gery om pasiënte te sien”.
Oor sy beroep sê hy: ”Dis ander soort mense as loodgieters of prokureurs wat jy in die mediese beroep kry. Daar is baie emosies in die Medisyne. Jy werk met lewende wesens wat ellende, pyn en spanning het. Jy moet empatie hê. Ons is daar om dit te help verlig”.
Oor hoekom hy in sy besondere rigting gespesialiseer het, sê hy hy het ook ’n belangstelling in ginekologie gehad en in sy finale jaar op universiteit ’n onderskeiding in dié vak behaal. Hy het talle bevallings en keisersnitte in algemene praktyk hanteer.
Toe hy ’n algemene praktisyn was, was hy ook ’n lid van die destydse Kommando’s en het ’n offisierskursus by Voortrekkerhoogte gedoen en is toe gevra is om by 1 Militêre hospitaal te kom werk.
Daar het hy ervaring in verskillende departemente, asook in algemene chirurgie opgedoen toe ’n besoekende oor neus en keel chirurg hom oortuig het om in hierdie rigting te spesialiseer.
“Dit was vir my ’n interessante en fassinerende deel van die mediese wetenskap. Dit is nie net beperk tot oor neus en keel nie, maar dit dek ’n baie wye veld. ”Mens het ’n redelike wye kennis van die liggaam nodig. Die liggaam is nie gefragmenteer nie en elke deel daarvan is deel van die groot wonderlike liggaam wat ons het. Jy moet jou fisiologie en patologie ken.
“As jy oorinfeksies of hoofpyn het moet mens uitvind hoekom. Daar is talle oorsake vir ’n seer keel of aanhoudende hoes en benoudheid. Daar is oorsake vir gewasse en kanker.
“Medisyne is ‘n presiese wetenskap. ’n Wonderlike en heilige wetenskap.
”Diagnose is baie belangrik. Jy moet luister wat die pasiënt jou vertel. Maar soms kom hulle met byvoorbeeld ‘sinusitus’ en dan is dit iets heeltemal anders.
En as hy sy lewe oor gehad het?” Mense kom met sielkundige en fisieke probleme na jou en jy moet hulle behulpsaam wees.
Dan het het hy presies dieselfde gekies. Die rede waarom hy elke dag opstaan.
“Dis ’n pragtige wetenskap”, sê hy.
Vir ontspanning lees hy graag – van mediese joernale en speur- of spanningsverhale tot geskiedenis. Beslis nie “soppy” goed nie.
Maar deesdae maak hy van ’n Iphone gebruik om die letters groter te maak omdat sy sig agteruit gegaan het.
Het hy al ooit ouderdomsdiskriminasie ervaar?
Nooit gesien nie. “Ouderdom is net ’n getal en beteken eintlik niks!”
Die 100-jarige dr. John Callaghan omring deur personeel en kollegas wat hom so waardeer
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


