Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag
Oordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die helende handewerk van ’n meester in die vakmanskap van boekbind en -restoureer – wat dateer van Middeleeuse gildes. MARTHINUS VAN BART gesels boekdele met Johan Botha, boekbinder van Kaapstad, oor sy seldsame ambag van die afgelope 60 jaar.
In 1965 het Johan sy vakleerlingskap in boekbindery by Dirk Zandberg van Trio Rand Drukkery in Commercialstraat, Kaapstad begin toe hy pas 18 was. Dit was sy eerste kennismaking met drukkersmasjienerie en watter van die baie soorte papier van allerlei kleure, greine en diktes, was geskik vir watter soort boeke en ander publikasies.
Hy het uitgevind dat die boekebedryf ’n eiesoortige vakmanshiërargie, werksomgewing, toerusting, vakdissipline en selfs ’n vaktaal, gesteun deur vakwoordeboeke, omvat. Hy het na tien jaar vir Trident Press, ook in Kaapstad, gaan werk voordat hy hom in 1982 by die Nasionale Boekdrukkery (Nasboek) in Elsiesrivier aangesluit het. In 1994 het hy vir Universiteit Stellenbosch se drukkery gaan werk en onder die mentorskap van restourasie-meester, Don Lisle. geleer hoe om boeke en dokumente te restoureer. Met sy aftrede in 2006 was hy die voorman van die handbindery-afdeling.
Johan Botha met voorbeelde van kosbare boeke wat hy gerestoureer en herbind het. In sy hand hou hy ’n baie ou Kaaps-Hollandse familiebybel.
Aangesien moderne tegnologie toe al heelparty van die hand-masjienerie by die drukkery oorbodig gemaak het, kon hy daarvan oorkoop om gedurende sy aftrede informele kontrakwerk vir akademici, munisipaliteite, argiewe, biblioteke en versamelaars te doen.
Johan sê hy is die liefste daarvoor om belangrike ou boeke, soos Africana, te restoureer, te herbind en van nuwe omslae te voorsien, wat so die verlore status van ’n versamelstuk herwin. Daar vir sy nering geen einde in sig nie: Kosbare boeke bly vir die kultuurbewuste ’n kleinood, hoe gesofistikeerd die hedendaagse elektroniese media met e-boeke, Kindle en Ipad ookal word en al meer verwyderd van die eeu-oue praktyk van handvervaardigde boeke. Dis ’n tasbare band met tegnieke en tradisies wat terugreik na vakmansgildes en uitgewershuise onder koninklike beskerming.
Onder Johan se kliënte tel beleggers, akademiese navorsers, genealoë, regslui, medici en vakwetenskaplikes. Advokate laat graag hul versamelings regsboeke in eenderse omslae van leer met goue letterwerk op die rugkant bind, wat dan indrukwekkend in kunstige boekrakke van duursame eikehout pryk.
Afgestudeerdes laat bind hul verhandelings imponerend-netjies sodat dit bewaar word en mooi vertoon in die gesinskamer se prominente boekrak agter glas.
’n Versamelaar van speurverhale het hom by geleentheid opdrag gegee om sy enorme versameling sagtebandboeke in harde band met eenderse letterwerk te herbind. Dit is toe in spesiaal geboude rakke oral in sy huis vertoon. ’n Ander kliënt het haar jarelange versameling tuinboutydskrifte in jaarbundels met hardebandomslae laat inbind.
Johan Botha met ’n miniatuur boekkas en boeke wat hy as ’n vertoonstuk vir sy werkplek gemaak het.
Johan voorsien dikwels kosbare foto-albums van versierde omslae. Hieronder tel talle huweliksalbums en kinderalbums. Wanneer daar ’n sterfte in ’n familie is, wil die naasbestaandes spesiale albums hê waarin die lewe van die oorledene met foto’s en eerbetonende versierings uitgebeeld word. Ook groot in aanvraag is versierde, silindriese kokers waarin mense akademiese, sport- en ander prestasie-sertifikate en oorkondes bewaar.
Johan trek ’n kartondoos vol ou boeke nader en haal ’n gehawende boek versigtig daaruit: “Kyk
nou net na hierdie pragstuk!” Dit is ’n eksemplaar van Paul Kruger en de Opkomst van de Zuid-Afrikaansche Republiek, wat die Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers Maatschappij (Jacques Dusseau) in 1898 in Amsterdam in opdrag van die Volksraad van die Transvaalse Boererepubliek gedruk en uitgegee het.
Argivaris J.F. van Oordt, ook bekend as D’Arbez, het hierdie opname van die stand van sake in die ZAR kort voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) saamgestel. Hy was ook die skrywer van ’n aansienlike reeks geromantiseerde geskiedenisverhale, nog in half Nederlands en krom Afrikaans, om die Afrikaanse gemeenskap mee op te voed.
Johan Botha kan telefonies gekontak word by 083-717-7311 of landlyn (021) 932-8769.
Marthinus van Bart is ‘n skrywer en uitgewer van kultuurhistoriese boeke. Sy onlangse boek Wolraad Woltemade 250 Gedenkboek kan bestel word by selfoon 073-750-5203 of e-pos: kultuurkroniek@gmail.com
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


