Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Deur: Mimie de Vries 
Foto’s: Verskaf deur Frans van Niekerk 

Die gemeenskap het ingegryp en moue opgerol om die 1885 Nieuwe Republiek Museum op Vryheid, in die noorde van KwaZulu-Natal, te restoureer. 

Frans van Niekerk, komiteelid wat nou gemoeid is met die museum vertel: “In Maart 2024 is ’n gemeenskapsvergadering belê waartydens die AbaQulusi Munisipaliteit te kenne gegee het dat hul nie langer kans sien om die 1885 Nieuwe Republiek Museum te onderhou nie. ’n Komitee van nege lede uit die gemeenskap is verkies om opknapping en die heroopstelling van die museum te behartig”.   

Die gemeenskap van Vryheid het ruimskoots bygedra om die 1885 Nieuwe Republiek Museum weer op die been te bring. Hier staan Frans van Niekerk by plaasimplemente.

Die Nieuwe Republiek raadsaalgebou in 2024 voordat restourasiewerk deur die gemeenskapskomitee onderneem is.

Die vooraansig van 1885 Nieuwe Republiek Museum in 2025 na die opknappingsinisiatief deur die gemeenskap van Vryheid.

In die daaropvolgende maande is hard gewerk en op Woensdag 24 September 2025, op Erfenisdag, het die gemeenskap van Vryheid die heroopstelling van die museum feestelik gevier.  Wat komiteevoorsitter André van Ellinckhuyzen en sy span binne 18 maande vermag het, is merkwaardig, aangesien die komiteelede dié projek vrywillig onderneem het en ook in ander beroepe staan. 

Die 1885 Nieuwe Republiek Museum het ’n interessante geskiedenis. Die Nieuwe Republiek het bestaan van 1884 tot 1888. Dit is gestig op grondgebied wat as beloning deur die Zulukoning, Dinizulu, aan ’n groep boerevrywilligers uit die Zuid Afrikaanse Republiek geskenk is, nadat hulle hom gehelp het om orde in Zululand te herstel en sy gesag te bevestig. Op 16 Augustus 1884 het Dinizulu ’n proklamasie uitgevaardig waarvolgens 1 355 000 morge (1 160 600 hektaar) aan die boerevrywilligers afgestaan is. 

Die Nieuwe Republiek, onder sy president Lucas Meyer, is deur die Britse owerheid erken. ’n Grondwet is opgestel, ’n volksraad met 12 lede is saamgestel en die dorp Vryheid, gestig in Desember 1884, was die hoofstad. Die bouwerk aan ’n raadsaal, wat vandag die 1885 Nieuwe Republiek Museum huisves, het begin in November 1884. Die gebou, nie veel groter as ’n woonhuis uit die laat 1800s-era nie, het ook gedien as staatskantore, landdroskantoor, kantoor van die staatssekretaris, hof van heemrade, registrateur van aktes en poskantoor. Dit was ook die hooggeregshof waar advokaat de Korte as regter gedien het vir die aanhoor van die eerste moordsaak in Vryheid. Die somber voorkoms van die dik klipmure en selle aan die agterkant van die raadsaal, dien as herinnering dat die gebou ook as gevangenis en fort gedien het.  

Die akteboek waarvolgens plase toegeken is aan boerevrywilligers. Die bladsynommers van die boek stem ooreen met die nommers van die plase. Boere kan vandag nog die g (002)

Gebundelde staatskoerante getuig van die erns waarmee van president Lucas Meyer en sy volksraad die van die Nieuwe Republiek geregeer het

Boeke in die raadsaal bevat Staatskoerante tussen 1884 en 1888 van die Nieuwe Republiek

Die vertrek wat as raadsaal gedien het vir die Nieuwe Republiek

Behalwe president van die Nieuwe Republiek was Lucas Meyer ook veldkornet, volksraadslid, veggeneraal, raadslid van die ZAR en medeondertekenaar van die Vereeniging Vredesverdrag op 31 Mei 1903 in Melrose-huis in Pretoria. 

Daar het duidelike foto’s van Lucas Meyer behoue gebly, maar van sy eerste eggenote, Margaretha Johanna van Niekerk, was daar slegs een wasige foto. Met behulp van kunsmatige intelligensie is dié foto vermoderniseer en kan museumbesoekers vandag sien hoe mevrou Meyer gelyk het.  

Lucas Meyer, president van die Nieuwe Republiek

Die bestaan van die Nieuwe Republiek was kortstondig, want op 21 Julie 1888 is dié jong republiek by die ZAR ingelyf as die distrik Vryheid, en na 1902 het dit deel geword van Natal.  

Inwoners en boere in die omgewing het vele artefakte uit die tydperk van die bestaan van die 1885 Nieuwe Republiek Museum opgediep en geskenk, en die opknapping van die museum is onderneem met hulp van skenkings uit die gemeenskap.  

Frans van Niekerk vertel dat die 1885 Nieuwe Republiek Museum vandag weer die trots van die gemeenskap van Vryheid is. Dié museum is voorwaar ’n voorbeeld van hoe ’n gemeenskap self hul geskiedenis en kultuurgoedere kan bewaar. Die komitee van die 1885 Nieuwe Republiek Museum het nog vele planne vir die toekoms – een daarvan is om Lucas Meyer se woonhuis skuins oorkant die museum te restoureer.  

Die 1885 Nieuwe Republiek Museum is geleë in Landdrosstraat 119, Vryheid. 

Die enigste oorblywende foto van Margaretha Johanna van Niekerk, eggenote van president Lucas Meyer

Margaretha Johanna van Niekerk, eggenote van president Lucas Meyer, duidelik sigbaar nadat die oorspronklike foto deur kunsmatige intelligensie gerestoureer is

Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/ 

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Mens sukkel nie met ’n meermin nieCarla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese...

Die grafdigter

Die grafdigterdeur Gerda Taljaard -  boeiende Gotiese fiksieDeur Neil Cochrane Uitgewer: Penguin...

’n Lewenslange musiekreis

Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis Deur Mimie de Vries Ek kuier by Elizabeth...

Philippolis – Deur Jens Friis 

Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat Saamgestel deur Jens FriisBoekresensie deur...

Vorige Uitgawes
Previous Publications

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook