Geen vervaldatum vir talent nie
Deur:Carla van der Spuy
Die ouderdomme het al gewissel van 51 tot 93. Deelnemers aan Dinsdagaand, 10 November 2026, se Andanté Plus 50 en ATKV Buffelspoort se talentkompetisie wat met die geesdriftige samewerking van die ATKV-hoofkantoor vanjaar vir die tweede keer by ATKV -Buffelspoort aangebied is, se beroepe verskil ook drasties. Van die kansel tot die tronk (laasgenoemde darem as bewaarders.)
Daar is geen vervaldatum op talent nie en daarom bied hierdie talentkompetisie vir mense van 50 en ouer ’n gulde geleentheid om hul talente voor ’n gehoor te vertoon. Jy moet immers nie jou talente onder die maatemmer los nie.
Moenie seniors onderskat nie. Toehoorders in die saal waar hulle opgetree het, was soos sardientjies gepak. Honderde toeskouers het die finale rondte bygewoon. Party flink en nog jeugdig en ander met hulpmiddels. Die applous was oorverdowend.
Talle mense wat die Plus 50 Kuierweek bygewoon het, het gekampeer. Lekker informeel in die nasionale uniform van ouer dames – die gemaklike, lospassende driekwartbroek. Dit was verstommend hoeveel met swembad noodles onder die arm rondgeloop het. Dalk vir oefening, wonder ek. Nooit gesien nie, hulle lê rustig agteroor op die noodles in die water. Dryf droomverlore rond.
Bekende bemarker van sangtalent, die one and only Lydia Winchester, was ook daar om een van haar sangers, Chris Spies, te ondersteun wat in sy afdeling, naamlik sang, die wenner was.
”Ek het jou lankal vertel om hom dop te hou en om ’n storie oor hom te skryf,” raas haar bloedrooi mond.
Reyno Wepener, bemarker by Buffelspoort waar die Andanté talentkompetisie aangebied word, vertel dat die bekende paartjie in vermaaklikheidskringe, Cor en Laetitia Uys ’n groot rol in die sukses van die geleentheid gespeel het.
Wie se breinkind was dit aanvanklik?
Reyno: ”My paaie het met dié van Cor-hulle gekruis en toe gesels ons so oor ’n talentkompetisie vir seniors en hy kom met die gedagte dat Plus 50 tydskrif die mediaborg is. Toe besef ek daar is ’n gaping in die mark want daar bestaan nie soortgelyke kompetisies nie.
”Ek het dr. Karel Prinsloo, mede-eienaar van Plus 50 Media gebel en hy was dadelik geesdriftig hieroor. ”Kom ons doen dit,” het hy gesê.”
Wentzel du PLessis (Kategorie – Eie komposisie – sekulerê musiek)
Coleen Pienaar (Kategorie – Eie komposisie – gospel musiek)
Die eerste kompetisie is toe met Reyno as sy gewilde karakter, ”Oompie” aangebied, (hy het vanjaar al 53 optredes gehad) maar dit was aanvanklik net ’n sangkompetisie.
”Ek sê toe ons het reeds ’n Plus 50– week. Kom ons hou die finale uitdunne een aand hier. Dan het ons ’n platform vir die finaliste.”
ATKV-Buffelspoort het besluit om een van die borge te wees met gratis verblyf aan die finaliste.
”Met die genade van Bo was dit ’n reuse sukses. Toe sê mense hulle kan nie sing nie, maar hulle kan stories vertel, dramatiseer of skilder. En Radiokansel vra of ons nie ’n afdeling vir gospelmusiek kan hê nie. Gevolglik is die finale uitdunne as ’n verskeidenheidskonsert aangebied.
”Die hartklop van Andante gaan oor positiewe veroudering. En ons sê talent verdwyn nie en dat hierdie kompetisie weer talent ontsluit, talente wat ons van die liewe Vader ontvang het. Die gedagte is dat talent nie met ouderdom wegraak nie.“
Andanté was gewis nie ’n kompetisie waar talente onder die maatemmer weggesteek is nie. Dit was ook interessant om te hoor in watter beroepe deelnemers was. Daar was ’n hele paar musikale predikante terwyl ander by Korrektiewe Dienste gewerk het.
Leonie Coetzee (Kategorie -Kuns)
Chris Spies (Kategorie – Sang)
Dries Kotze (Kategorie – Storievertelling)
Peet du Toit (Kategorie – Instrumentaal)
Cor knoop ’n persoonlike verhouding aan met elkeen wat inskryf en help hulle.
Reyno vertel dat daar verlede jaar ’n 93-jarige man was wat klavier gespeel het. ”Baie mense neem net vir die lekker deel en nie noodwendig om te wen nie.”
Vanjaar was een van die gehoor se gunstelinge (en ’n wenner) Quentin Pendle, ’n blinde man wat die klavier met sy eie komposisie en geesdrif laat jubel het.
”Hy is briljant en speel ook kerkorrel”, vertel Reyno.
”Ek het daar agter gestaan en die Here gedank vir die talente wat hy vir die mense gegee het.”
Cor wat met die inisiatief vorendag gekom het en hard saam met sy vrou, Laetitia gewerk het, het inskrywings vanoor die hele land ontvang. Verlede jaar was daar net sang en instrumentale items. Vanjaar het ver oor ’n honderd mense ingeskryf en het die 20 finaliste Dinsdagaand opgetree.
“Volgende jaar beloof om nog meer kreatiewe items in te sluit.”
Steve van der Walt (Kategorie – Eie komposisie – gospel musiek)
Cor vertel dan van ’n vrou van 88 wat skilderkuns ingeskryf het en nog iemand van 85 wat in die afdeling vir Drama deelgeneem het en al voorheen ‘n Afrikoon toekenning gekry het.
Die wenners in die onderskeie afdelings was die volgende:
- Kategorie Instrumentaal: Peet du Toit.
- Kategorie Instrumentaal met eie komposisie: Quinten Pendle.
- Kategorie Drama: Joe Kleinhans.
- Kategorie Storievertelling: Dries Kotzé.
- Kategorie Eie komposisie sekulêr: Wentzel du Plessis.
- Kategorie Kuns: Leoni Grobler;
- Kategorie Sang: Chris Spies.
- Kategorie Eie komposie gospel: Die twee gesamentlike wenners was Steve van der Walt en Colleen Pienaar.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof Kultuur van die ATKV, het die pryse oorhandig en Mercia Eksteen, hoofbestuurder Kommunikasie van die ATKV het ’n kort en kragtige toespraak gelewer.
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


