Die Orrel –regte note op regte tyd
Paul Boekkooi
Dit was Dante (1256-1321) wat laat in die 12de eeu die lof van die pyporrel in sy Paradiso, Canto xvii poëties verwoord het. In Dorothy L.Sayers se vertaling lees sy teks só: “Thence, as sweet music to the ear comes sliding / Through the piped organ comes into my mind / The visions of thy life and times betiding.”
Vier beroemde komponiste se menings
Heelwat later het vier beroemde en opeenvolgende komponiste binne die aura van musiek se hoogkonjunktuur hul persoonlike menings en ervarings rondom spesifiek die pyporrel as volg aangeteken:
“Dit is baie eenvoudig. Jy moet net die regte note op die korrekte tyd aktiveer en die instrument speel vanself.” – Johann Sebastian Bach (1685-1750).
“In my oë en ore sal die orrel altyd die koning van instrumente wees.” – Wolfgang Amadeus Mozart (1756-91).
“Moet nooit die geleentheid verloor om op ’n orrel te oefen nie; daar is geen instrument wat vinniger wraak neem op enigietswat onhelder of stroperig in komposisie én spel na vore kom nie.” – Robert Schumann (1810-56),
“Ek, ook, het in my jeug die orrel dikwels bespeel, maar my senuwees kon nie die krag van hierdieenorme instrument weerstaan nie. Ek behoort dus’n orrelis wat ’n meester van sy instrument isop die voorpunt van alle virtuose musici te plaas,” – Ludwig van Beethoven(1770-1827).
Dit is enersyds opvallend in watter mate die vier van hulle verskil, maar andersyds tog ook nie…
Fotokrediet: Gary Sieling
Fotokrediet: Gary Sieling
Orrelkultuur in Afrika
Afrika as kontinent moes relatief lank wag voordat ‘n orrelkultuur homself hier kon kom nestel. As dit nie was vir die relatief vroeë koloniste soos die Portugese, Nederlanders, Engelse, Duitsers, Franse en enkele kleiner groeperings nie, sou dit moontlik geensins kon funksioneer, laat staan gedy nie. Gelukkig het Christenemet ‘n verskeidenheid van geloofsrigtings – merendeels eweredig verdeel tussen die Roomse Katolisisme en Protestantisme – hulle in die oorwegend suidelike deelvan Afrika gaan vestig en begin om verbintenisse te snoer wat hulle laat tuisvoel het en waarbinne hulle hul individuele godsdiensoortuigings kon uitleef. Onder dié aansienlike meerderheid immigrante was daar ’n redelike persentasie wat vertroud was met kerkmusiek en veral dan ook met die orrel wat die gesamentlike kernpunt van eenheid gevorm het in die begeleiding van psalms en gesange.
Dit was opvallend, verrassend en veral merkwaardig dat Suid-Afrika die “toekomsland” sou word waar hierdie samesmelting te midde van die onvermydelike diversiteit daarvan tog uiteindelik oor ’n paar eeue heen sou bly floreer. Oor tyd is dit wel vasgestel dat heelparty van die koloniste ook orrels vir hul eie gebruik na Suidelike Afrika verskeep het.
Pyporrelbou
Die ontstaanfase van pyporrelbou in Suid-Afrika is helaas aanvanklik ook maar taamlik karig beskryf. Die opbloei van ‘n plaaslike bedryf wat deels aangevoer is deur die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Orrelbouers (Edms) Bpk in 1948, was die vertrekpunt van ’n nuwe era. Die SAOB, gestig deur die Nederlandse immigrant Willem van Loon, sou vir die volgende 70 plus jare die leidende en mees produktiewe plaaslike orrelboumaatskappy bestuur. Orrels is ook deur hulle uitgevoer na lande soos Zimbabwe, Angola, Mosambiek en Kenia.
Enkelpersoon-orrelbouers wat in verskeie spesialiteitsgebiede van die meer uitdagende aspekte rondom orrelbou gespesialiseer het, was ’n stimulus vir die plaaslike bedryf. Om die geskiedenis en uitbouing daarvan tot op datum volledig na te gaan, is Pyporrels in Suid-Afrika(J.L. van Schaik, 1992) wat nagevors geskryf en saamgestel is deur die orrelis prof. Albert Troskie ’n goeie bron.
Die ontstaan en die geskiedenis van elke speelbare orrel in Suid-Afrikais aangeteken, met die bouer se naam inkluis. Daar is ook aparte hoofstukke oor konsertsaalorrels, huis-, skool- en kollege-orrels, teaterorrels, ’n deeglike en tegelyk toeganklike, tegniese oorsig en ’n bibliografie met drie bylaes wat onderskeidelik handel oor: 1) Disposisies van verteenwoordigende orrels: 2) Orrelfilantropie in Suid-Afrika, en 3) Waardevolle historiese orrels.
Dr. Johan Brink, ’n afgetrede fisikus wat in sy jonger jare onder andere as kerkorrelis ses jaar verbonde was aan die Gereformeerde Kerk, Stellenbosch en twee jaar aan die St. Michael Kerk in Pretoria, bied van tyd tot tyd klanklesings aan waarin hy fassinerende aspekte rondom die orrel vir luisteraars openbaar. Een van sy wenke het te doen met die orrelis se ledemate: “As jy al jou ledemate in jou spel aanwend, moet jy beslis nie ondertoe kyk nie”.
Dr. Brink is nie ten gunste van die eietydse neiging om digitale orrels, waarvan die Allen Organ die bekendste voorbeeld is, aan te prys nie. ’n Ander bekommernis vir hom is die ommeswaai wat by sommige van die drie susterskerke aangetref word, asook dié wat ’n charismatiese rigting ingeslaan het en wat nou merendeels by die aanddienste die orrel verruil vir ’n “band”.
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Paul Boekkooi, is gebore in Utrecht, Nederland, en kom uit ‘n musikale familie wat na Suid-Afrika geëmigreer het toe hy skaars agt maande oud was. Die gesin het in Pretoria gevestig, waar hy ook sy skool- en universiteitsopleiding ontvang het. Paul skryf op uitnodiging vir oorsese tydskrifte soos Opera, Orff Heute, die Duitse mondstuk van die Carl Orff-vereniging in München, en die Nederlandse dagblad, NRC Handelsblad. Hy is ook bekend as ‘n skrywer van goed ingeligte, maar nie akademies muwwe programnotas nie, nadat hy onder andere vir die toere van die Bamberg Simfonieorkes, I Musici en die Tokio Strykkwartet geskryf het, maar ook vir plaaslike geselskappe/orkeste soos NAPOP, Pro Musica, Staatsteater Opera, die Johannesburg Filharmoniese Orkes en die MIAGI-fees.
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


