Die Vergete Droom van Gouna
Marinda le Roux
Moerbeie van Mislukkig
In die laat 1800’s het ’n fluistering deur die heuwels van Noord-Italië getrek, waar die lug soet na moerbeiblare ruik en die dorpies van Como en Treviso in stilte lê. Die woord versprei van ’n nuwe begin, ’n land van belofte aan die suidekant van Afrika, in Knysna.
Italië was nog nie ’n verenigde land nie, maar ’n lappieskombers van klein state wat al meer verarm het weens geweld, onstabiliteit, politieke onrus en ekonomiese krisisse. Die sy-industrie, eens bloeiend, was getref deur siektes (pebrine) wat die wurms verwoes het in die 1850’s en 1860’s, en boonop is die marke oorgeneem deur goedkoper sy uit die Ooste.
Die Kaapse regering se beloftes van grond, huise en ‘n moerbeibos het gelyk na ‘n uitkoms vir syboere.
In 1881 het 32 Italianers hul tasse gepak met hul hoop gevestig op die paradys waar hul kinders en besigheid kon floreer (wat die agterlaat van vriende, familie, besittings en die geboortedorp darem effens makliker gemaak het).
Die reis was lank. Hulle moes eers by die hawe uitkom – sommige te voet en ander per trein. Dokumentasie was ‘n nagmerrie, en die weke-lange bootreis daarna nog meer. Ventilasie was swak, kos was karig en skeurbuik en maagprobleme was ‘n alledaagse verskynsesl. Die onvoorspelbare weer en die dikwels ontstuimige Atlantiese see tot by die Kaap van Storms was geen grap nie. In die Kaap was alles vreemd, met weer ‘n gesukkel met dokumentasie. Om daarna per ossewa na Knysna te vertrek was ewe veel van ‘n beproewing vir die moeë reisigers. Paaie was dikwels bykans onbegaanbaar, kos was steeds nie volop nie en hulle was onseker oor wat hulle te wagte moet wees.
Met aankoms hul aankoms in Gouna was hoop weer terug.
Die klam lug en digte woude het perfek gelyk. Volgens die regering se beloftes was alles veronderstel om gereed te wees – moerbeibome, huise en skure en grond om op uit te brei. Gou het hulle besef dat min hiervan die antwoord op hul drome sou wees. Een van die kritiese ‘bestanddele’ vir sukses het ontbreek – die welige moerbeibos. Sonder die bome was daar geen kos vir die wurms nie, en sonder die wurms geen sy nie. Om nuwe boompies te plant sou beteken om te wag vir jare voor genoeg blare beskikbaar was en buitendien was die grond te suur vir die regte soort moerbei (Morus alba) om welig te groei. Die industrie was gedoem nog voor dit begin het.
Fotokrediet: Knysna Museum
Families moes leer oorleef in ’n vreemde land. Die Italianers het noodgedwonge houtkappers geword, geboer, of handel gedryf. Hul drome van sy-fortuine was egter vergeefs. ‘n Paar het van die syboere het teruggekeer na Treviso, waar die geweld nog nie bedaar het nie en die sy-industrie steeds in krisis was. Die siektes het nie verdwyn nie, die marke was nog swakker – die tragiese sirkel was voltooi – mislukking in Afrika, mislukking tuis.
Die nageslag het grootgeword met stories van die woud, maar ook met die werklikheid van ’n lewe sonder hoop. Die boodskap was duidelik: die gras is nie altyd groener op ’n ander vasteland nie, en die moerbeibome nog minder! Kinders moes leer dat drome (en beloftes) soms net illusies is, dat aanpassing die sleutel tot oorlewing is, en dat jou geboortelad, selfs met sy gebreke, miskien tog die enigste ware paradys is.
Fotokrediet: Knysna Museum
Fotokrediet: Knysna Museum
Daleen Matthee het in haar boek Moerbeibos die lewe van die Italiaanse immigrante uitgebeeld.
Daleen het nie net die gebeure kundig verweef met fiksie nie, maar ook vertel van die mens se vermoë om te volhard, selfs wanneer drome verydel. Moerbeibos was ’n soort liefdesbrief aan die Tuinroete, maar ook ’n kollig op koloniale wanbestuur. Die roman is ‘n bewusmaking van die uitdagings van immigrasie en die breekbare balans tussen mens en natuur.
In Gouna staan die San Ambroso-kapel nog, vernoem na beskermheer van diere, bye en vee. Met muurskilderye, gekleurde brandglas en eenvoudige houtbanke, was dit ‘n stukkie bekendheid en troos in ‘n vreemde land. Vandag is dit ’n museum, gevul met artefakte, ou foto’s en stories van die families se moed en mislukking.
Fotokrediet: Knysna Museum
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


