Elly Holm – van Berlyn tot Hartbeespoort

Carla van Der Spuy

Elly Holm het twee wêreldoorloë oorleef, die eerste as kind van ‘n Duitse offisier en die tweede as vrou, kunstenaar en moeder, terwyl sy voortdurend in Duitsland met ses kinders voor soldate moes vlug.

Haar lewensverhaal, klink soos die draaiboek van ‘n rolprent: hongersnood, armoede en wanvoeding. Boeiend en uitdagend.

Elly Holm was ‘n formidabele vrou. Sy het soms maande lank gedurende oorlogstye nie van haar man, Erik, gehoor of geweet waar hy hom bevind het nie, terwyl sy die pot aan die kook moes hou. As hulle briewe ontvang het, was dit soms onherkenbaar gesensor.

Die ergste was toe sy van haar uitgehongerde kinders in na-oorlogse Duitsland geskei was omdat sy in Pretoria in haar man, Erik, se hoogverraadsaak moes getuig.

Hul sonderlinge liefdesverhaal het begin toe beide student aan die Kunsakademie van Leipzig was waar sy Erik, ‘n Suid-Afrikaner, ontmoet het.

Hy praat haar om om na Suid-Afrika toe te kom waar hulle trou en hul oudste kinders, Dieter en Albrecht gebore word.

Hulle woon ‘n ruk lank in Natal maar verhuis later na Duitsland weens beter werksgeleenthede. Erik, wat eintlik ‘n argeoloog was, werk toe by Radio Zeesen wat pro-Afrikaanse programme in Afrikaans uitgesaai het. Daar was ook meer belangstelling vir Elly se kuns.

Toe hoor hulle dat Suid-Afrika aan die Tweede Wêreldoorlog teen Duitsland gaan deelneem. Erik en sy span was teen Suid-Afrika se deelname. Vroue en kinders kon met staatshulp na landelike gebiede gaan.

‘n Boer met ‘n hooiwa het vir Elly en die kinders kom haal. Die oorlog was veel erger as wat hulle voorsien het.

Hulle moes voor die Amerikaanse bomwerpers en dreunende pantservoertuie in bomskuilings en selfs in ‘n hooimied wegkruip. Elly het lakens en mure beskilder en die boere het haar ondersteun.

Sy het niks van Erik gehoor nie en vrees dat hy in Russiese gevangeskap, of dood was.

As arm vlugtelingvrou moes sy op ‘n strooisak geboorte gee. Sy maak penne uit vere en ink uit houtskool en roet.

Na die oorlog het hulle honger gely. Sy bewimpel ruilhandel vir die kinders se musiek- en Latynlesse. Boeke is gered want haar motto was: “Liewer ondergaan mét kultuur as daarsonder.”

Erik wat van hoogverraad aangekla is, is deur soldate van Duitsland af na Suid-Afrika gebring. Hulle sou hom aanvanklik onderweg in die rug skiet, maar toe kry hulle opdrag van Jan Smuts om dit te herroep. Hy wou die man lewendig hê en nie as ‘n tweede Jopie Fourie nie.

Erik is goed in die tronk behandel en die Vrouefederasie en die Ossewabrandwag het vir hom kos gebring. Gevangeniskos sou hy nie in aanhouding eet nie.

Elly, geklee in ‘n dirndl, was onder die indruk dat sy slegs vir ‘n paar dae na Suid-Afrika sou kom, en pak net ‘n tandeborsel, ‘n blokfluit en bladmusiek in haar tas. Sy het twee weke lank getuig en hoor toe sy kan nie na haar kinders in Duitsland teruggaan nie.

Erik is tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Na agt lang maande hoor Elly dat die kinders op pad is maar hul reis is op London onderbreek omdat die ouma Duits was.

Brandmaer, gehawend, verwilderd en verwese kom hulle uiteindelik in Suid-Afrika aan.

Johan Schoeman het vir haar Elly ‘n erf op Hartbeespoort geskenk en die Holms se berugte “bousiekte” sorg vir ‘n woning.

Al was hulle arm was hulle altyd skatryk aan boeke, kuns, kultuur, musiek en natuuruitstappies.

Erik is na twee jaar en 3 maande vrygelaat. Elly se kuns het al gewilder geword en sy het opdragwerke gekry en uitstallings gehou.

Daar was later sewe kinders en ‘n ouma onder hul dak. Van ‘n telefoon, elektrisiteit, riolering en behoorlike watervoorsiening was daar egter geen sprake nie.

In ‘n gesprek met Dieter, wat Elly se lewensverhaal oor ‘n tydperk van 30 jaar lank uit haar briewe en herinneringe saamgestel het, vertel hy dat elkeen van die sibbes ‘n ander seining oor Elly gehad het.

“Dit was ‘n gesamentlike werk. “

Die boek het gevolg nadat ‘n gedenkuitstalling op uitnodiging van die Universiteit van Pretoria oor haar werk aangebied is.

 

Van die briewe wat behoue gebly het, sowel as foto’s van Elly se werk, is in die boek gepubliseer.

Dieter verduidelik die simboliese betekenis van die omslag, waar ‘n figuur met uitgestrekte arms staan. Die Magaliesberge waar hulle later lewenslank nesgeskop het, pryk in die agtergrond. Die arms versinnebeeld die warm verwelkoming wat hulle van veral die Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners in hierdie gebied beleef het. Die voorgrond van die illustrasie is donker soos Elly se lewe tydens en na die oorlog was, maar dit word al ligter, wat ook hul lewens indie Magaliesberge uitbeeld – die plek waaroor sy jare gedroom het.

“As my kinders eendag hier is en my man vry, sal ons hier kom woon”, het sy gesê.

As broodwinner, het  Elly groot uitdagings beleef, maar haar innerlike krag en veelsydigheid as kunstenaar, het haar deur die moeilike omstandighede gedra. Sy het in talle mediums soos potlood en pen gewerk en het nuwes soos sgraffito en batik die land ingebring. Sy was die baanbreker vir leiklipkuns wat harde arbeid verg. Alles uit nood gebore.

Dieter: “Sy het gesê ‘n boer maak ‘n plan maar sy vrou maak baie planne.”

Ondanks hul klippekapdae (letterlik en figuurlik) het hulle hul humorsin behou. Elly wou rankrose plant. Erik nie. Toe maak sy ‘n grafsteen met die woorde; “Hier rus my rankroos.” Erik het weer aan sy maats vertel dat sy pa in ‘n groot huis woon, met plek vir baie (Baviaanspoortgevangenis).

Die “swart hond” het haar egter soms erg geteister en dan het sy lank met migraines in haar kamer gelê.

Sy het hul seun gevra om vir hulle twee doodskiste te maak. Erik het dit makaber gevind, maar Elly beskilder dit van binne met hul kinders se portrette en blommetjies!

Dieter skryf: “Haar werk is eintlik ‘n loflied oor die skepping. Dit spreek van dankbaarheid. Terwyl ons kinders in Duitsland was het sy vir ons ‘n briefie met rooigrond van Suid-Afrika gestuur en gesê dit is ons toekoms.”

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum Deur: Mimie de Vries Foto's: Verskaf deur...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Mens sukkel nie met ’n meermin nieCarla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese...

Die grafdigter

Die grafdigterdeur Gerda Taljaard -  boeiende Gotiese fiksieDeur Neil Cochrane Uitgewer: Penguin...

’n Lewenslange musiekreis

Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis Deur Mimie de Vries Ek kuier by Elizabeth...

Vorige Uitgawes
Previous Publications

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook