Kersfees – ’n tyd vir gee

Carla van der Spuy

Vra jy iemand wat hulle vir hul verjaarsdag wil hê, is die wenslys gewoonlik lank.

Maar Dina Tseng (68) van Newcastle wat vanjaar in twee gewilde televisieprogramme, Kwêla en Goeiemôre verskyn het nadat ’n boek oor haar sonderlinge lewensverhaal, Waar oos en wes ontmoet verskyn het, het net een groot wens gehad.

En dit was om geld in te samel vir honger kinders en gesinne op haar dorp waar die nood hoog is nadat derduisende mense by Mittal in Newcastle afgedank is.

Die dorp bloei.

Dina wat ‘n onderwyseres was voordat sy ’n baie suksesvolle sakevrou geword het (sy besit onder meer die gewilde Factory Plaza op die dorp) het altyd ’n hart vir kinders gehad.

Sy wil absoluut niks vir haar verjaarsdag hê nie, het sy besluit. Al wat sy vra is dat mense op die dorp die Factory Plaza se Carols by Candlelight funksie teen R100 toegang per persoon bywoon. Dina het al die verversings geborg en die geld is net so vir ’n broodnodige voedingsprojek ingesamel. Baie mense het ook niebederfbare blikkieskos geskenk of donasies gegee.

Van haar ondersteuners het van plekke sover as die Kaap, Klerksdorp, Centurion en Hartbeespoort gereis. Meer as 200 kaartjies is soos soetkoek verkoop.

En was dit ’n heuglike geleentheid! Ses predikante van verskillende gemeentes van charismaties tot Gereformeerd op die dorp, het dit saam met hul gesinne en lidmate bygewoon. Elkeen het ook ’n kort Kersboodskap van minder as 3 minute gebring wat ’n wonderwerk vir enige predikant is wat tot ’n uur lank kan preek.

‘n Christelike orkes het gratis opgetree, ds. Pieter Kotze van die NG Moedergemeente ook ’n buikspreker, het die kinders met sy bekkige pop vermaak, doedelsakspelers in Skotse rokkies het uitbundig musiek gemaak en al Dina se personeellede het glimlaggend oortyd gewerk om van die aand ’n sukses te maak.

Dina(links) by Celia du Plessis
Fotokrediet: Foto verskaf

Almal teenwoordig het uit volle bors gesing terwyl Dina wat steeds teen twee soorte kanker veg, in ’n helder oranje en skokpienk uitrusting met feetjieliggies in haar hare oral soos blits rondbeweeg het.

Dina se Taiwannese man Tommy, het belowe dat indien die skare harder sing, hy R20 000 aan die projek gaan skenk!

Op die ou einde is R60 000 skoon wins ingesamel.

Dina:“Dit beteken dat ons vir 60 gesinne elkeen ’n kospakkie ter waarde van R1 000 elk op 16 Desember by sekere skole kan uitdeel.

“Daar sal ook lekkers vir die kinders wees”, sê sy.  Sy sal dit nooit oor haar hart kry om nie ’n soetdingetjie in te sluit nie.

Plus 50 het met die predikante gesels wat by die funksie was. Ds. Thinus Kruger (35) onlangs eers van die plaaslike Gereformeerde kerk wat steeds ’n vrygesel is (die tannies staan seker tou om namens hul dogters na hom as skoonseun te vry) sê hy, is nie juis met ’n wonderlike sangstem geseën nie, daarom bring hy eerder ’n boodskap.

Dina met die liggies.
Fotokrediet: Foto verskaf

En wat die skoner geslag betref, hulle is almal reeds getroud of oorsee, sê hy. Sy eksmeisie het Dina se boek gelees en so het hy van Dina te hore gekom.

Ds. Fritz Olivier (52) van die Newcastle-gemeenskapskerk, sê hy het betrokke geraak nadat Dina (die hele dorp ken haar) hom genader het.

Hulle, as geestelike leiers, het al lankal die gevoel dat daar eenheid in die dorp moet wees en dat hulle meer dinge saam moet aanpak. Hulle is die jonger geslag predikante en hy voel die tyd is ryp vir meer samewerking.

“Ek beskou myself egter nie as jonk nie en is seker die oudste van die jongklomp,” sê hy.

Hy dink die kerssangdiens is ’n wonderlike gedagte. Hulle as predikante sien die nood in die dorp raak wat tans ’n ekonomiese laagtepunt bereik het. Die ekonomiese probleme het ’n hele rimpeleffek. “As ’n ingenieur sy werk verloor, kry die kafeetjie op die hoek ook swaar.”

Kerke gaan uit die aard van die saak ook minder bydraes kry terwyl hulle meer behoeftes moet aanspreek.

Pastoor Dustin Fergusson van Bridge Church, het ’n ellelange baard wat hy vir vier jaar lank sedert die einde van die pandemie nie geskeer het nie. Sy bynaam is “Moses.”

Hy vertel dat hy Dina se inisiatief 100 persent ondersteun.

“Ons gemeenskap het dit nodig. Newcastle kry swaar en ek het volle begrip daarvoor dat die dorp geld nodig het om te oorleef en dat dit ook nodig is om ons geestelike lewe ’n hupstoot te gee. Dis ’n seëning om saam te aanbid. Hierdie is ’n pragtige wyse vir die gemeenskap om by mekaar uit te kom. Dina het ’n wonderlike netwerk van mense.”

Ds. Ignatius Rademeyer (45) van die Bergsig NG Kerk het minder as 3 maande gelede Newcastle toe getrek en het dadelik ingestem om die geleentheid by te woon toe hy Dina ontmoet het. Ook hy dink dis ’n wonderlike gemeenskapsprojek.

Die vers wat by hom opgekom het was Jesaja 9 vers 5 wat lui: “Want vir ons is ’n Seun gebore, ’n Seun gegee en Hy sal heers en Hy sal genoem word Wonderbaar, Raadsman, Magtige God. Ewige Vader. Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal die Koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid van nou af en vir altyd.”

Hy het gesê dat Jesaja 8 eeue voor Christus se koms reeds voorspel het dat Hy sou kom. Met Kersfees word ons daaraan herinner dat ons Skepper weer kom en dat Hy ons kom haal.

Thinus het gesê die geregtigheid van God is so besonders want dit is wie God is.

“Hy is regverdig en hy is volkome en volmaak. Die geregtigheid van God word in die Evangelie aan ons openbaar. Hoe kry die mens wat hom van God vervreem het weer deel aan die geregtigheid? Die ou kerkhervormer Martin Luther, het gesukkel met die gedagte.

“Hoe kan ék God wat regverdig is, werklik dien?

“Hoe kan ek met my dade en my geregtigheid by Sy standaarde uitkom? Hy het vir jare gesukkel tot hy besef het dis nie jou geregtigheid nie maar God se geregtigheid wat vir jou gegee word. En dit het vir hom die poorte van die hemel laat oopgaan. Deur geloof alleen, met ander woorde op geen ander manier as om te glo aan Jesus Christus nie, die Een wat vir ons gebore is en die Een wat vir ons aan die kruis betaal het.”

’n Jeugleraar, Rudolf Vermaak (18) van AGS-Deo, het vertel dat Jesus die ongelooflikste geskenk aan ons is en dat Kersfees steeds vandag voortduur.

“Hoop is aan ons in ’n menslike gedaante gegee.”

Pastoor Dustin Fergusson van die Bridge Gemeente.
Fotokrediet: Foto verskaf

Tommy (haar man) by Ds. Ignatius Rademeyer
Fotokrediet: Foto verskaf

Doodmoeg maar sielsgelukkig vertel Dina agterna dat sy bekommerd was oor al die kinders wat gedurende die lang Desembervakansie nie kos sou kry nie omdat die skole dan gesluit is.

‘n Kospakkie behels blikkieskos, stapelvoedsel soos mieliemeel en langlewe melk.

“Ons kan nie die hele wêreld help nie, maar ons kan ’n paar mense help.”

Baie van die mense het agterna vertel dat die byeenkoms vir hulle ’n Goddelike ervaring was wat hulle nader aan die Here gebring het.

Die Bybel lui immers dat dit saliger is om te gee as om te ontvang.

Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/ 

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum Deur: Mimie de Vries Foto's: Verskaf deur...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Mens sukkel nie met ’n meermin nieCarla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese...

Die grafdigter

Die grafdigterdeur Gerda Taljaard -  boeiende Gotiese fiksieDeur Neil Cochrane Uitgewer: Penguin...

’n Lewenslange musiekreis

Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis Deur Mimie de Vries Ek kuier by Elizabeth...

Vorige Uitgawes
Previous Publications

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook