Elizabeth en Francois Fourie – ’n lewenslange musiekreis 

Deur Mimie de Vries 

Ek kuier by Elizabeth en Francois Fourie in hul pragtige blyplek naby Parys. Hulle is pas terug van ’n konserttoer waarmee hul die land deurkruis het. In 2025 het beide van hulle 70 jaar oud geword en dit toe gevier deur 70 konserte aan te bied.   

Ons “onderhoud” word ’n heerlike kuier, en Elizabeth en Francois gesels nie net oor hul onlangse konsertreis nie, hul gedagtes gaan ook ver terug as hul begin gesels oor hul musiekloopbaan. 

Fotokrediet: Foto verskaf

Elizabeth en Francois se ontmoeting was nie net die begin van hulle lewensreis saam nie, maar ook die begin van hul musiekloopbaan. As studente het hul beide oudisies afgelê vir ’n produksie van die musiekblyspel Lilac Time deur Frans Schubert. Die manlike en vroulike hoofrolle is aan hulle toegeken.  

Die liefde het nie dadelik geblom nie, maar Francois het besef watter juweel “die donkerkoppie” was. Die uiteinde was dat hul nou reeds 46 jaar getroud is. 

Die vermaaklikheidsbedryf is uiteraard glansryk en “bekendes” bou ’n aanhangerskorps op wat hul bewonder. Maar Elizabeth en Francois is duidelik nederig en heg nie veel waarde aan roem en prestasie nie.

Hul benadering tot hul gehore is dié van diensbaarheid. Hul wil aan hul gehore iets gee, en ontvang dan soveel terug. Gehore voel vinnig respek en eerlikheid aan. Daar is niks aangeplak aan hierdie twee mense nie. Elizabeth verduidelik dat as hul op die verhoog is, dit nie beteken dat hul ’n trappie hoër as “gewone” mense in die gehoor is nie. En om op die verhoog dieselfde mens te wees as wanneer jy nie op die verhoog is nie, vereis karakter. Hulle egtheid vorm ’n belangrike deel van hul suksesresep. 

Elizabeth merk op dat dit belangrik is om balans te handhaaf, en daarom gaan hul op toer met hul eie woonwa, sodat hul tussen konserte deur die natuur kan geniet en fietsry. Altwee is ywerige gholfspelers.  

Fotokrediet: Foto verskaf (Op die grens)

Fotokrediet: Foto verskaf (Aussie Toer)

Hulle landswye toer getiteld “Wil jy dans Carina?” – ’n musiekstorie, het hul tot in die uithoeke van die land geneem. Hulle het dikwels by oorde vir bejaardes opgetree, en is oorweldig deur gehoorlede se waardering. Francois vertel met ’n vonkel in die oog dat hy van drukkies hou, en glad nie omgee as ’n bejaarde dame hom ’n drukkie wil gee nie.  

Elizabeth vertel dat hul op ’n klein plekkie soos Loeriesfontein ’n konsert gegee het, en gehoop daar daag 20 gehoorlede op, want daar bly net 20 mense. En toe kom daar 30! 

Dit raak hulle diep as gehoorlede emosioneel op vertonings reageer. Hulle dink terug aan die konserte wat hul vir weermaglede gehou het tydens die grensoorlog. Hulle is met ’n Alouette helikopter gevlieg na basisse op die “kaplyn”. Geharde troepe, wat maande laas familie of vriende gesien het, het sommer trane van verlange gestort al sing jy net Sarie Marais, vertel Elizabeth.  

Hul konsertreise het hul geneem van weelderige konsertsale na sinkplaatsaaltjies en tronke. Hulle het insig gekry in die lewens van mense van Perth, Holland en Namibië.  

Hul dink steeds terug aan hul “Aussie”-toer 10 jaar gelede. Op ’n keer, tydens ’n konsert in die Kalahari, het dit begin reën. Die konsert is op die plek onderbreek en Francois en Elizabeth het saam met die boerderygemeenskap buite die reën gevier.  

Fotokrediet: Foto verskaf
(Wenliedjie Afrikaanse Treffers)

Fotokrediet: Foto verskaf (Op toer met hul woonwa)

Fotokrediet: Foto verskaf (Die langpad)

 

As mens die langpad vat leer ken jy werklik mense, sê Elizabeth, terwyl Francois, pyp in die hand, instemmend knik. 

*In die Februarie/Maart 2026-uitgawe van Plus 50 vertel Francois en Elizabeth van hul verhouding en huwelik wat reeds 46 somers lank hou. 

Skandeer die kode en luister na die trefferliedjie “Wil jy dans Carina?”

Fotokrediet: Foto verskaf 

Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/ 

Nuutste Artikels
Latest Articles

Skorpio

Formidabele tweemanskap weereens op  tuimeltreinrit in Skorpio Deur: Willemien AukemaDie...

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum 

Herwonne glorie van die 1885 Nieuwe Republiek Museum Deur: Mimie de Vries Foto's: Verskaf deur...

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambag

Kaapse boekbinder beoefen steeds sy ambagOordeel gerus maar die boek aan sy omslag. Dis die...

A Love Letter to South Africa: Place

A Love Letter to South Africa: Place by Justin Fox By Jennifer du PlessisThis place is home, and...

The Knysna and Tsitsikamma Forests

The Knysna and Tsitsikamma Forests: An enchanted forest landWESSEL VERMEULEN served in the Knysna...

Pretoria Leeskringe

Pretoria Leeskringe se Jaarprogramme Senior burgers is ywerige lesers, en leeskringe bied die...

Karen, kunstenaar van Knysna

Karen, kunstenaar van KnysnaYolanda du ToitKaren du Toit het ’n liefde vir enigiets kreatiefs, van...

Mens sukkel nie met ’n meermin nie

Mens sukkel nie met ’n meermin nieCarla van der Spuy het ’n een en ander oor die legendariese...

Die grafdigter

Die grafdigterdeur Gerda Taljaard -  boeiende Gotiese fiksieDeur Neil Cochrane Uitgewer: Penguin...

Philippolis – Deur Jens Friis 

Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat Saamgestel deur Jens FriisBoekresensie deur...

Vorige Uitgawes
Previous Publications

Streek
Region

ATKV Promosie
Promotion

Kontak Ons
Contact Us

Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat

Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing

Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399

Intekenare • Subscribers

Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za

Hoofkantoor | Head Office

Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.

Wordpress Social Share Plugin powered by Ultimatelysocial
Facebook