Philippolis – die oudste nedersetting in die Vrystaat
Saamgestel deur Jens Friis
Boekresensie deur Marinda le Roux
Soos aftrede ‘n realiteit word, verlang ons weer na die ou grondpaaie, na die plekke waar mense nog tyd het om oor die heining te gesels, waar die reuk van beskuit in die lug hang, en waar geboue stories vertel van die tyd voor selfone en internet. Jens Friis verstaan dit. Sy boek, Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat (tweede druk), is’n uitnodiging om die hoofpad te verlaat en die pragtige omgewing te verken, presies soos die omslag belowe: “Vat die agterpad met Jens Friis deur die Transgariep na die Karoo”.
Fotokrediet: Foto verskaf
Van die eerste bladsy af is dit duidelik: hierdie is geen droë akademiese verhandeling nie. Friis skryf soos ’n ou vriend wat jou in sy bakkie laai en sê: “Kom ek wys jou iets.” Die boek bestaan uit bykans 260 glansbladsye met pragtige fotos en inligting wat kleurryk weergegee word.
Die geskiedkundige tydlyn op bladsye 14 en 15 gee perspektief in ’n neutedop en word aangevul met ’n kaart uit 1899 van Philippolis en omgewing.
’n Besonderse plesier is die deurgaanse fotos van hoe die dorp ontwikkel het sedert die ontstaan in 1822 tot vandag: ou swart-en-wit fotos langs hedendaagse kleurfoto’s van dieselfde huis, dieselfde straat, dieselfde horison… bekend, maar anders.
Na ’n kort voorwoord en erkenning van belangrike Philippolisers, stap ons deur die strate, met Voortrekkerstraat wat eerste ‘n beurt kry (natuurlik, want dit vorm die hart van die dorp, met die NG Kerk as baken aan die bopunt). Dan volg Tobie Mullerstraat, Colin Fraserstraat, Kokstraat, Justisiestraat – elke straat ’n hoofstuk, en elke hoofstuk ’n klein skat. Jens vertel ook hoe die verlegging van die N1 gelukkig net-net by Philippolis verbygegaan het, wat beteken het dat baie geskiedige geboue behoue kon bly, en reisigers boonop ‘n korter en veel mooier alternatief gee.
Fotokrediet: Foto verskaf
Fotokrediet: Foto verskaf
Die NG Kerk en die kerksentrum kry ruim aandag. Friis vertel hoe die kerk in 1871 ingewy is, hoe die pastorie later ’n museum geword het, en hoe die kanonne voor die deur nog altyd daar gestaan het “asof hulle wag vir ’n oorlog wat nooit weer kom nie”. Die huis waar Sir Laurens van der Post gebly het, kry sy eie blaaie (die Skrywershuis is by die Sir Lurens van der Post Gedenksentrum), net soos die museum met die Transgariep-kultuurkamer.
Fotokrediet: Foto verskaf
Friis gee selfs die weer sy eie afdeling – want in Philippolis is weer nie net weer nie. “Oë laat wêreld steeds leef” en “As die reën bly wegbly” is twee hoofstukke wat die leser laat voel hoe die stof in jou keel brand en hoe die eerste druppels op die sinkdak klink. Hy skryf oor die waterslang van 1940, oor die koshuisdam wat gebreek het, en oor hoe die wolke soms so laag hang dat ’n mens voel jy kan dit met die hand aanraak.
Die boek brei dan uit na die distrik. Rowelsfontein, Bronnelys, Hoërskool MT Steyn, die rugbyklub, die ou tennisklub – alles kry sy plek. Die stories oor die laaste Joodse handelaar die Jacobsons, oor Oom Sterk Gert, oor Emily Hobhouse se “engel vir Boere” word met soveel deernis vertel dat ’n mens later met ’n knop in die keel sit. Een van die sterkste elemente van die boek is Friis se portrette van die dorp se inwoners. Hy skryf oor kunstenaars, boere, winkeleienaars en gemeenskapsleiers met warmte en respek. Hierdie mense word die stemme van die agterpad – eg, eerlik en onvergeetlik.
Op ‘n ligter trant is daar die storie van die otter wat vir die eerste keer in Philippolis opgemerk is, en die mitologiese waterslang wat sy poel kwyt geraak het. Daar is ’n heerlike hoofstuk oor “Zebra, van waar jou naam?” en ’n ander oor “Stasie had skool vir ses dekades”. Benewens die historiese en kulturele waarde, bied die boek ook ’n eerlike blik op die uitdagings en moontlikhede van klein dorpe in hedendaagse Suid-Afrika. Friis skryf met hoop, sonder om die realiteite te verswyg.
Hierdie boek is vir almal wat al ooit by die afrit Philippolis verbygery en gewonder het wat agter daardie koppies lê. Dit is veral vir oud-inwoners wat nou in die stad bly en skielik weer die reuk van droë Karoo-gras kry wanneer hulle deur die boek blaai. Dit is vir almal wat glo dat die beste stories nie langs die N1 lê nie, maar op die grondpad waar die stof jou herinner dat avonture jou inwag.
Fotokrediet: Foto verskaf
Wat die boek besonders onvergeetlik maak, is die visuele kwaliteit. Die sketse van Niel de Leeuw onderaan van die blaaie is klein kunswerke in eie reg. Die boek se ontwerp en rykdom van stories, kaarte en wonderlike fotos laat mens voel jy hou ’n erfstuk vas.
Koop die boek. Sit dit op die koffietafel. Beplan jou volgende wegbreek. Ná Jens Friis se pragboek sal jy presies weet waar om te begin: stop by die kerk vir ’n foto, en boek in by een van die pragtige Groenhuise, waar jy deel word van die verhaal, en ook jou eie storie kan skryf.
Fotokrediet: Foto verskaf
Fotokrediet: Foto verskaf
Fotokrediet: Foto verskaf
Sterbeoordeling: 9.5 uit 10
(Die halfpunt afgetrek omdat ’n mens ná die lees daarvan onmiddellik petrolgeld én ’n langnaweek kortkom.)
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


