Speel voor by die net
Phia le Grange
My gesprek met Jenneke Fehrsen is soos ’n terugkom en herontdek van ’n parallele geskiedenis wat ons deel en wat teruggaan na die destydse Transkei, skryf Phia le Grange oor hierdie inspirerende vrou wat op 88 nog tennis speel.
Jenneke was in die sending met haar huisarts-eggenoot en ek was in die sending as kind saam met my huisarts-pa.
Iewers het ons strome deur die walle gekalwe en saam begin loop. Ek het in Pretoria vir Sam Fehrsen, haar eggenoot begin werk en sy het deel geword het van ’n jare–lange Bybelstudie-groep met lede oor voorstedelike grense heen.
Jenneke en tennis is sinoniem. Daar is selfs ’n baan by die Rietondale-tennisklub na haar vernoem. Nou met dubbel-agt se jare op haar kerfstok staan sy voor by die net en speel. Haar jonger maat speel agter. Geen enkels meer vir haar nie. Sy moet deesdae ook haar skouer respekteer, sê sy. Dit is soos die jare jou lyf en senings wegskilfer – om ’n swaar ding uit ’n voertuig te tel word ’n oorlogswond. Sy kan nie meer ’n bal bo uit die lug gaan haal om haar opponent te fnuik nie. Maar sy kan nog balle plaas net waar sy dit wil hê, so vanaf haar netlangse posisie. “En ons wen van ons wedstryde hoor,” sê sy met ’n skelm vonkel in haar oë.
Jenneke in die tuin by Huis Herfsblaar
Fotokrediet: Foto verskaf
Dinsdae speel die groepie vroue saam wat al jare lank tennismaats is by die Rietondale-klub. Saterdae speel hulle saam met almal, waar die wedstryde gereël word sodat gelyksoortige groepe teen mekaar speel. Sy speel al vir meer as 80 jaar tennis. Daardie som kan ek toevallig maak – sy moes al voorskools begin het! Ek wou nie regtig wantrouig lyk nie, maar ek vermoed dit slaan so bietjie deur. Sy lag maar net haar warm laggie.
“Ek is in Upington gebore, jong. Ons het in Kenhardt gebly waar my pa skoolhoof was. Weet jy hoe breed is daardie strate? Toe ek vyf was het ons vir mekaar balle geslaan oor die breedte van die stofstrate.”
“Ons het later uit Kenhardt getrek,” vertel sy. “My pa wou verder gaan studeer in Stellenbosch. Ek is na La Rochelle in die Paarl en het op Stellenbosch gaan studeer. Ek het vir Sam ontmoet by die CSV. Hy het medies by die Universiteit van Kaapstad gestudeer.”
Hulle is later getroud en het in die Transkei beland ná Sam se huisdoktersjaar, naby Kokstad by Rietvlei en Mount Ayliff sendingstasies. Sy onthou nog hoe sy moes gaan help om bokke en ander vierbeniges weg te jaag sodat die vliegtuigie kon land om Sam na afgeleë plekke te karwei vir mediese hulpverlening. Dit was goeie tye. Hulle het verhoudings gebou met mense en eerstehands beleef hoe ander mense kerk bedryf met openheid en oorgawe. ’n Kerkdiens wat so bietjie ontspoor is deur laatkommers is eenvoudig reg gesing. Drie dogters en twaalf jaar later is hulle Londen toe met ’n beurs vir Sam se verdere studies van ’n jaar. Daarna Pretoria toe sodat Sam kon help om die destydse Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa) by Ga-Rankuwa aan die gang te kry, waar hy uiteindelik as professor afgetree het.
Sam het agt jaar gelede, op Jenneke se verjaarsdag op die tennisbaan ’n hartaanval gekry en is net daarna oorlede. Hoe gaan mens aan as jy op 80 jou lewensmaat en vriend verloor? “Ek moes net aangaan soos baie ander mense. Die Here was goed vir my. Ek het die dag ná sy dood gehoor ons het plek gekry in Huis Herfsblaar. Ek moes alleen intrek sonder Sam. Ek het dit beleef as ’n bestiering. Baie jare van vreugdes en reise en groot lewensruimtes moes tot essensies verklein in ’n woonstel op die eerste vloer met ’n lieflike tuinuitsig.”
Jenneke by die baan wat na haar vernoem is.
Fotokrediet: Foto verskaf
“Ek het verder besef ek moet eenvoudig dinge bly doen wat my stimuleer. ’n Mens moet jou denke en jou liggaam aan die gang hou. Vyf kilometer se stap per dag, elke dag van die week, weeklikse trimgim, diaken in die kerk en tred hou met al die gangleiers se inligting van mense wat hulp en gebede nodig het. Ek speel elke Donderdag brug. Ek ry met my eie voertuig waar ek wil wees.”
Hoe is jou gesondheid in die algemeen, vra ek. “Ek het ’n probleem met my gehoor, maar ek is diep dankbaar vir tegnologie en gehoorapparate. ’n Mens moet daarteen waak om geïsoleerd te raak. Ek kan nie ’n dag laat verbygaan sonder om koerant te lees of nuus te luister nie. ’n Mens moet gebruik wat jy het sodat jy dit nie verloor nie. Ek omarm die dinge wat my lewe verbeter:jou sintuie, jou liggaam, jou denke en veral jou hart. En ek vermy dinge wat nie tot stigting is nie.” Jenneke het nie ’n vervaldatum op omgee nie.
In Huis Herfsblaar en in die groter gemeenskap het sy opnuut weer bewus geword van die verbrokkeling van mense se lewensomstandighede wat soms hartverskeurend is. Die kleurvolle kaleidoskoop van gebreide beertjies wat op een van die stoele in haar sitkamer lê moet na ouerlose kinders in die Tshwane-distrikshospitaal gaan. Sy het ’n “aanneem”-kind in die Louis Botha-kinderhuis vir wie sy met ’n oop hand effens lig kan bring in die donker tye van ’n weeskind se randfiguur-bestaan . Soms moet sy die mantel van geduld oor haar skouers gooi en net aangaan. Sy kan dit alles doen omdat sy wil. En omdat sy omgee, wíl sy.
Insetsel: Jenneke het nie ’n vervaldatum op omgee nie.
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


