Van engelvlerke en Krismisdrome
Deur Willie Strauss
Toe ek ’n kind was het ons nie lang Kersvakansies by die see gehad nie. En al spring ek vandag eerste in die kar as iemand my saam see toe nooi, is dit vir my steeds net so lekker om by ons Sinkhuis in Cullinan te bly terwyl almal strandhanddoeke in ’n tas probeer pas.
Ons huis is een van Cullinan se oorspronklike wonings. Volgens die papiere is dit in 1905 gebou in die jare toe mense nog na dié myndorp gestroom het met sterre wat soos diamante in hulle oë geblink het.
Al praat die houtvloere nou soms in die nag en skud elektrisiëns hulle kop as hulle in die solder kyk, het soveel drome al in hierdie huis vlerke gekry dat dit letterlik my droomhuis is.
Agter die sinkmure gebeur daar amper altyd een van drie goed: ek werskaf in die kombuis, ek sing en speel klavier of ek praat met die honde, katte en Ettiene.
Maar kom ons begin by die kos. My liefde vir kosmaak is lankal nie meer ’n geheim nie, want ek kan mos nie stilbly nie. Ek praat op RSG waar ek resepte deel, en gee kosdemonstrasies op Ontbyt TV. My grootste trots is egter die twee kookboeke wat die lig gesien het – Daar’s ’n Engel in die Koskas en meer onlangs Sinkhuisresepte. Ek werk al klaar aan die derde een en daar is niks lekkerder nie.
Die proses vat amper so lank soos ’n beesstertbredie. Ek begin lank voor die tyd deur my resepte sif, toets hulle weer en kyk hoe ek hulle kan aanpas met die Willie-faktor. Dan skryf ek die stories, want kos en stories loop saam soos kettie en klip. Teen die tyd wat die fotograaf die foto’s neem, is ek al so opgewonde soos ’n kind op 23 Desember.
Fotokrediet: Fotos verskaf
Fotokrediet: Fotos verskaf
In dié boeke probeer ek die geure en smake van my kinderdae vasvang – eenvoudige kos wat maklik genoeg is om te maak, met ’n kinkel hier en daar. Vir die nuwe boek gaan ek ’n paar nuwe goed probeer, want dis belangrik om jouself uit te daag en kreatief te bly.
Ek het op ’n plaas in die Noord-Kaap grootgeword, en my ma doenig met die kospotte op die houtstoof bly een van my beste herinneringe. Met Kersfees was die Kerskaartjies met sneeumanne wat op die sideboard gestaan het, ’n belofte van ’n ander wêreld. Ek het in 2022 my ander groot droom bewaarheid – om in Europa te gaan toer – maar in my kinderjare was my idee van oorsee gaan net om anderkant die Oranjerivier uit te kom.
Ons het vir Kersfees altyd familie gehad wat kom kuier. Dan het ek en my neef Henri winkel-winkel gespeel, want om met karretjies in die warm stof rond te ry was nie my idee van pret nie. Seker nie snaaks dat die Sinkhuis ook nou ’n Sinkhuiswinkel het nie, waar ek op winkeldae enigiets van geborduurde vaddoeke tot tuisgemaakte konfyt verkoop.
Maar terug by Kersfees – soos met baie ander dinge was kos ook vir hierdie tyd sentraal. Kleinkoekies is lank voor die tyd gebak en was dit nou nie ’n foltering nie, want ons moes wag vir “die mense” voor ons daarvan kon eet.
Geskenke is op Oukersaand uitgedeel, maar ek het nooit die fênsie Lego-stelle en afstandbeheerde karre gekry nie. Ons s’n was maar altyd prakties, soos ’n nuwe skooltas vir die jaar wat kom, of potlode en penne.
Op Kersdag sou ons eers na die Oggenddiens op die draadloos luister, maar daar was darem al ‘n stukkie vrugtekoek om die honger te stil. Teen daardie tyd het die verleidelike geure van skaapboud en aartappels al swaar in die lug gehang.
Nadat almal hulself in ’n beswyming geëet het, moes ons ’n middagslapie vat. Maar probeer jy nou in die middag slaap op ’n somersdag in die Karoo! Dit was so warm dat ons maar op die klipvloer gelê het omdat die bed te warm was, haastig om die waatlemoen te sny wat later uit die nat goingsak gehaal sou word waar dit gebêre is om koel te bly.
My liefde vir musiek en konsert hou kom ’n ewe lang pad. Behalwe vir winkel-winkel was my ander groot plesier om die familie nader te roep sodat ek vir hulle konsert op die stoep kon hou – met liedjies van Sonja Herholdt en Carike Keuzenkamp. My pa het seker toe al geweet dat hierdie seun van hom nie ’n boer gaan word nie…
Ek het later ’n Nasionale Diploma in Uitvoerende Kuns aan die destydse Pretoria Technikon verwerf en is trots op die soloprojekte wat ek al reg oor die land opgevoer het. Stories met Sterte was die land se eerste troeteldier-kabaret, en daar was ook Die Duiwel dra Crocs, Daai ene met die Vlerke, Daar is ’n Engel in die Koskas en Kook en Sing.
Fotokrediet: Fotos verskaf
Fotokrediet: Fotos verskaf
Teken gerus in op Plus 50 tydskrif vir meer interessante stories oor mense, geskiedenis, argitektuur, leefstyl en gesondheid: https://www.plus50.co.za/teken-in-subscribe/
Nuutste Artikels
Latest Articles
Vorige Uitgawes
Previous Publications
Streek
Region
ATKV Promosie
Promotion
Kontak Ons
Contact Us
Redaksiesekretariaat
Editorial secretariat
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Advertensies & Bemarking
Advertising & Marketing
Rienie Coetzee (rienie@plus50.co.za)
082 776 3889
Linda Joubert (linda@plus50.co.za)
071 244 3399
Intekenare • Subscribers
Skakelbeampte / Public Relations Officer
Tel: 012 348 8706
plus50@plus50.co.za
Hoofkantoor | Head Office
Tel: 012 348 8706
Suite 145, Privaatsak/Private Bag X19,
Menlo Park 0102
2de Vloer/2nd Floor, The Hillside 318, Lynnwood,
Pretoria.


